May
17
May 17th, 2013
RSG Ontbyt 18 Mei 2013_resep
Walliese Roosterbroodontbyt
(bedien 2 )
1 E botter
1 E koekmeel
½ k melk
100 g cheddarkaas, gerasper
2 t korrelmosterd
Hand vol pietersielie, fyn gekap
Sout en swartpeper
4 snye brood
Smelt die botter in ‘n braaipan en roer die meel by. Klits die melk geleidelik by totdat die sous verdik. Roer die kaas, mosterd en pietersielie by. Geur met sout en peper.
Rooster die brood liggies aan albei kante en skep ‘n dik laag kaassous oor. Rooster in die oond tot kaas goudbruin is. Bedien warm met geposjeerde eiers en bros gebraaide varkworsies.

Events
May
10
May 10th, 2013
RSG Ontbyt 11 Mei 2013_resep
Ontbyt Jalousie
( bedien 6 – 8 )
Brooddeeg:
25 g gis
340 ml water, louwarm
10 ml sout
10 ml suiker
20 ml olyfolie
500 g broodmeel
Meng die gis en water in ‘n mengbak totdat die gis opgelos is. Roer die sout, suiker en olyfolie by. Voeg die meel gelydelik by en meng tot ‘n stywe deeg Keer op ‘n skoon oppervlakte uit en knie totdat die deeg glad is. Plaas in ‘n bak wat liggies met olie gesmeer is en bedek met kleefplastiek. Laat die deeg reis totdat dit verdubbel in grootte.
Jalousie:
Voorverhit die oond tot 180°C. Spuit ‘n bakplaat met kleefwerende sproei. Rol die brooddeeg in ‘n groot vierkant uit (± 30cm x 30cm). Sprinkel die regterkant van die deeg liggies met meel. Vou dit dan in die helfte tot denkbeeldige middellyn van die deeg en sny dwars kepies in. Vou die deeg weer oop. Skep enige kombinasie vulsel op die linker helfte van die deeg. Laat 2 cm om die rand oop en smeer liggies met water (sal as gom dien).Vou die helfte met die kepies bo-oor die vulsel en seël mooi.
Bedek en laat weer in ‘n warm plek staan tot effe gerys. Verf met eiermengsel en bak vir 20 – 25 minute of totdat die jalousie goudbruin en gaar is.
Vulsels:
Gekookte eier, bros spek, gaar wors in skyfies gesny, gaar skelvis, gebraaide uie, kersietamaties, gekapte pietersielie, beleë Cheddarkaas.

Events
May
9
May 9th, 2013
Events
May
3
May 3rd, 2013
RSG Ontbyt 4 Mei 2013_resep
Ontbyt demperbrood
(maak 1 brood)
8 spekrepies, in blokkies gesny
1 ui, grof gekap
250 g bruismeel
5 ml sout
45 g botter, in blokkies gesny
12, 5 ml grasuie, fyn gesny
140 g beleë Cheddarkaas, gerasper
10 ml witwynasyn
175 ml melk
Voorverhit die oond tot 200°C en spuit ‘n bakplaat met kleefwerende sproei. Braai die spek en uie in ‘n braaipan met ‘n bietjie olie tot gaar.
Sif die bruismeel en sout saam in ‘n mengbak. Vryf die botter met vingerpunte in en roer die grasuie, kaas, spek en uie by. Meng die asyn en melk by en roer die meelmengsel tot ‘n sagte deeg vorm. Indien die deeg te styf is, roer nog melk by. Keer uit op ‘n skoon oppervlakte en knie tot glad. Maak ‘n ronde vorm en plaas op die bakplaat. Neem drie stukke growwe tou en bind die brooddeeg vas om 6 “wiggies” te vorm. Sprinkel elke wiggie met ‘n ander tipe saadjie, bv sesamsaad, poppiesaad, pampoensaad of lynsaad. Bak vir ± 45 minute tot goudbruin, bedek en bak ‘n verdere 15 – 20 minute tot gaar.

Events
Apr
26
April 26th, 2013
RSG Ontbyt 27 April 2013_resep
Eiers “en cocotte” met roosterbrood soldate
(bedien 1)
Eiers ‘en cocotte’
2 eiers
20 ml room
Sout en swartpeper na smaak
Voorverhit die oond na 180°C. Spuit ‘n ramekin of oondvaste bakkie met kleefwerende sproei. Breek die eiers in die houer en sprinkel met sout en swartpeper. Giet die room daaroor en plaas in die oond om te bak vir ongeveer 10 – 12 minute. Verwyder van die oond en laat vir ‘n minuut of twee staan.
Variasie:
Plaas fyn gesnyde spinasie of tamaties onder-in die ramekin. Sprinkel kaas bo-oor en laat smelt.
Roosterbrood-soldate:
1 sny brood, korsies afgesny
25 g botter
Paar takkies tiemie
Sny die brood in 3-4 repe. Verhit ‘n braaipan en smelt die botter daarin. Voeg die tiemie by en daarna die brood. Braai tot goudbruin aan albei kante.
Bedien warm met die eier ‘en cocotte’.

Events
Apr
19
April 19th, 2013
FIRST CLASS OF 2013 TAKES PLACE ON 29 APRIL
BOOKINGS ESSENTIAL – LIMITED SPACE AVAILABLE


Events
Apr
18
April 18th, 2013
RSG Ontbyt 20 April 2013_resep
Lewerkoekies met tamatieblatjang
(Bedien 4)
1 ui, fyn gekap
400 g lam, skaap of bees lewer
8 repies spek, opgesny
2 eiers, geklits
2 E asyn
½ k vars broodkrummels
2 E pietersielie, fyn gekap
Sout en gemaalde swartpeper na smaak
Olie vir braai
Braai die ui in ‘n braaipan tot deursigtig en sag, laat afkoel. Sny die lewer in kleiner stukkies en voeg saam met die ui in voedselverwerker, verwerk tot fyn. Skep in ‘n mengbak en voeg die res van die bestanddele by. Geur met sout en swartpeper en meng deeglik.
Verhit die olie in ‘n braaipan en braai tot goud-bruin aan albei kante.
Bedien met tamatieblatjang.
Tamatieblatjang
900 g tamaties, grof gekap
1 ½ k rosyntjies
2 uie, fyn gekap
1 k strooisuiker
2 ½ k moutasyn
Plaas die tamaties, rosyne, uie en strooisuiker in ‘n kastrol. Giet die asyn oor die tamaties en bring tot kookpunt. Verlaag die temperatuur en prut vir ongeveer 2 ure of totdat die megsel verdik het.
Bedien dadelik of stoor in gesteriliseerde flesse in die yskas.
Events
Apr
12
April 12th, 2013
RSG Ontbyt 13 April 2013_resep
Muesli-flappertjies met gestoofde vrugte
(maak ± 24)
2 k koekmeelblom
50 ml ( ¾ k) suiker
1 e bakpoeier
Knippie sout
2 eiers, geklits
2 ½ k melk
50 g botter, gesmelt
1 k geroosterde muesli
Botter vir braai
Meng die meel, suiker, muesli, bakpoeier en sout in ‘n mengbak. Voeg die eiers, melk en gesmelte botter by die droë bestanddele en klits tot ‘n gladde beslag.
Verhit die botter in ‘n braaipan tot matige hitte en skep lepels vol van die beslag daarin. Sodra die opppervlak van die flappertjies klein borreltjies maak, draai om en braai verder tot gaar.
Gestoofde vrugte:
2 k gedroogde vrugte
¾ k suiker
Kaneelstokkie
1 rooibosteesakkie
5 ml suurlemoensap
Was die droë vrugte goed af. Plaas in ‘n kastrol met die res van die bestanddele en bedek met water. Prut vir 10 – 15 minute of totdat die droë vrugte sag is.
Bedien die flappertjies met gestoofde vrugte en vars jogurt.

Events